Tuesday, November 18, 2008

Integrasie in skole werk nie

Die akademiese jaar loop vinnig ten einde. Matrikulante is besig met hulle laaste skooleksamens, en ouers wat kleintjies vir die eerste keer skool toe moet stuur, staan nou voor die keuse oor na welke skool die gesin se kosbaarste besitting gestuur moet word.

In menige ouer is daar die kommer oor wat deesdae op die skole gebeur: wat word my kind daar geleer, hoe goed is die standaarde en beteken dit nog enigiets vir my kind se toekoms? En dan is daar die vrae oor veiligheid by die skole, in die lig van al hoe meer berigte van aanrandings, skêrstekery en selfs verkragtings in die skole.

Byna daagliks is daar berigte oor polisieklopjagte by skole, om te soek na versteekte wapens en dwelms. Die probleme met die handhawing van dissipline is bronne van kommer vir ouers, want gewoonlik word die swak dissipline van die skole saamgebring huis toe om ook vir die ouers geweldige hoofbrekens te besorg.

Ons het deur die jare telkens die oorsaak vir al hierdie probleme voor die deur van die multikulturele, geïntegreerde skole, gelê. Maar omdat dit as eksklusiwiteit en ‘n voortsetting van apartheid gesien is, is daar natuurlik nie na geluister nie.

Maar die waarheid het die neiging om altyd te oorwin, en die realiteit van die dag kan op die lange duur nie geïgnoreer word nie.

Die lig oor die land se chaotiese onderwysbedeling begin nou by verskeie opvoedkundiges deurbreek.

Een van die omstrede akademici, met wie ons al hewig verskil het oor van sy uitsprake, prof. Jonathan Janssen, begin nou ook te twyfel of rasse-integrasie in die skole ‘n goeie ding is. Hy baseer dit daarop dat dit lei tot die verlaging van standaarde. Waar hy, volgens ons, egter nie korrek is nie, is dat hy reken dat die invoer van armer swart kinders na middelklas-skole die rede is, en hy heg ‘n welstands- of rykdomskriterium aan die verskille, in plaas van die kultuurverskille, wat ons reken die rede vir die probleem is. Hy sê integrasie lok nie swak middelklasleerlinge nie, maar werkersklasleerlinge wat in wanfunksionele skole in die swart gebiede was.

Dit is dus presies waar die dissiplineprobleem in die skole vandaan kom. Dit word ondersteun deur professor Johan Beckman van die Universiteit van Pretoria, wat sê dat integrasie bydra tot ‘n gebrek aan dissipline en waardes. En die afbreek van waardes is tog iets wat vir ons as Christen-Afrikanerouers onaanvaarbaar is, omdat dit die fondament van opvoeding en bestaan is.

Intussen is daar gerugte in die ANC dat die Uitkomsgebaseerde Onderwys weer bekyk moet word, en as dit nodig is dat dit verwyder moet word, dit desnoods moet gebeur.

Helaas is dit so dat die staat ‘n politieke agenda het. By landbou word nie gekyk na voedselsekerheid nie, maar na ‘n politieke agenda van herverdeling van grond. Daarom is ons ook nie besonder opgewonde dat die regering sal luister na die mening van kundiges in onderwys nie, want hulle het ‘n politieke agenda wat gevolg moet word. Daardie agenda bepaal dat integrasie moet plaasvind, ongeag die uitkoms daarvan. Daardie agenda bepaal dat daar geen geskeide skole mag wees nie, want dit sal die vermoë van sekeres, en die onvermoë van ander beklemtoon, en sê nou net daardie verskille sou ‘n rasse-patroon uitwys...

Daarom, as u nou voor die besluit staan oor waar u kind volgende jaar heen moet gaan, oorweeg hierdie sake. Maar moet u nie laat mislei of u daaraan troos dat daar “gekyk” word na moontlike veranderinge nie. Moenie u kind voor die wolwe gooi, en hoop dat die wolf nie sy bek sal oopmaak om hom te verslind nie, of in die hoop dat daar dalk ‘n ander prooi vir hom sal verskyn nie. U kan nie so met die toekoms van u kind dobbel nie.

http://www.radiopretoria.co.za/Nov17SkoleIntegrasie.html

1 comment:

Anonymous said...

Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
God het jou lief. Lees jou Bybel.