Monday, May 26, 2008

Danie Theron: Een van ons grootste helde.



Anja Piek Gr6

Ons het op Saterdag 17 Mei 2008 vroeg bymekaar gekom by CVO Brandwag. Vandaar het ons in 'n konvooi na die Danie Theron Monument gery, wat naby Carltonville gelee is. Toe ons by die terrein aankom, was sommiges van ons braaf en het die koppie uitgeklim, terwyl ander minder avontuurlustig was en met motors opgery het na die monument.

By die monument het Oom Chris vir ons meer oor die geskiedenis van Danie Theron vertel. Onder andere het hy ons vertel dat Danie 'n prokureer in Krugersdorp was en dat hy opgestaan het vir die regte van die boerevroue, nadat 'n lelike berig oor die boervrou in 'n engelse koerant verskyn het van daardie tyd.

Hy is aangekla van aanranding op die redakteur van die koerant en moes 20 pond boete betaal. Hierdie boete is deur die boere wat die verhoor bygewoon het betaal.

Hy het besef dat die kommunikasie tussen die vegtende boere nie goed was nie en het die Verkennerskorps gestig. Hy was die stigter en leier van hierdie korps. Dit het bekend gestaan as die Danie Theron Verkenners. Boodskappe is vanaf so ver as Pietersburg reg oor die land geneem. Dit is op een van hierdie lang togte wat hy besef het dat 'n mens baie verder en vinniger per fiets kan ry as per perd. As boodskappe oor kort afstande geneem moes word, is daar steeds van perde gebruik gemaak.

Op 'n keer moes Danie Theron oor 'n lang afstand op sy hande en kniee van die een Generaal na die ander kruip om 'n boodskap deur die Engelse linie te kry.

Die Monument staan op 'n koppie waar Danie verkenning gaan doen het en toe op 'n groep Engelse soldate afgekom het. Met 'n Mauser het hy drie gedood en vier gewond. 'n Engelse generaal, Generaal Hart, het die skermutseling gehoor en gedink daar is 'n hele Boeremag op die koppie. Hy het toe vier gewone kannone en een skeeps kanon op die koppie gerig en daar is Danie Theron gedood.

Die monument is opgerig ter herdenking van Danie Theron en dat almal kan onthou dat hy 'n vegter was vir Afrikaner regte en dat daar in sy hart, die vlam van vryheid hoog gebrand het. Die monument is 50 jaar na sy dood opgerig deur Boeremense wat nog steeds die vlam van vryheid ook in hulle harte voel brand.

Wat 'n wonderlike ondervinding! Ek wens alle Afrikaner-kinders die voorreg kan geniet wat ons het en dat hulle die helde van ons Geskiedenis kan leer ken soos ons hulle leer ken, van mense wat nog vir ons en die geskiedenis omgee.

Terug by die skool het ons 'n Karee-boom geplant ter ere van Danie Theron, sodat ons hier by die skool altyd aan hom sal dink en aan dit wat hy vir ons Afrikaners gedoen het.

Die dag is afgesluit met 'n bring en braai en die brawes onder ons het 'n paar spelle Jukskei gespeel, net om dit gesellig te hou.

Sunday, May 11, 2008

Die BCVO Eksamenraad

Die BCVO-Eksamenraad is in 1996 amptelik erken as eksamineringsliggaam deur die SA-Sertifiseringsraad (SAFSERT).

Die BCVO-Eksamenraad hou toesig oor die afronding van reëlings vir die afneem, nasien en administrasie van die BCVO se Senior Sertifikaateksamen, wat vanaf einde 1997 by geakkrediteerde CVO-skole afgeneem word. Sedert die einde van 1997 het CVO-matrikulante met groot sukses die BCVO se eie SAFSERT-gesertifiseerde senior sertifikaateksamen afgelê. Die standaard van vraestelle en uitslae word ook ekstern gemodereer. (Die nuutgevestigde UMALUSI het sedert 2002 SAFSERT se rol in hierdie verband oorgeneem.)

Etlike van hierdie matrikulante het al suksesvol by verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en ander tersiêre opleidingsinstansies hul studie in rigtings soos medies, ingenieurswese, inligtingstegnologie, spraakterapie ens. suksesvol voortgesit en ook al reeds talle merietebeurse en ander toekennings verwerf.

BCVO- EEDSVERKLARING

Die ouers en lede van die BCVO is dankbaar dat die debat oor die Minister van onderwys aangaande die eedsverklaring nie vir ons kinders ‘n bedreiging sal wees nie!

Lank voor die eedsverklaring ‘n gedagte was, het ons, as ouers, gesien waar sake met die staatsonderwys heen oppad is en hoe stelselmatig die beïnvloeding en indoktronasie toegepas word.

Ons het ‘n ander pad gekies, een van groot opofferings en koste, maar in gehoorsaamheid aan ons verbondsbelofte bring ons die offers.

Ons begin ons skooldag egter sedert die begin van die beweging, nagenoeg vyftien jaar gelede, met ‘n gewyde geleentheid elke dag. ‘n Geleentheid waarin ons nie humanistiese waardes wil bou, soos die minister beoog met die openbareskool kinders nie, maar een van aanbidding voor die Drie-enige God. Een waarin ons nie probeer om ander se foute uit te wys en ons foute ook op hul skouers te laai nie, maar waarin ons, ons eie sonde en skuld erken en bely! Daarna verheug ons ons in die vergiffenis wat ons van ons Here Jesus Christus ontvang het en dank Hom daarvoor.

Ons onderneem ook: om ons dank en eer aan die Hemelse Vader te gee, elke dag met ‘n groter strewe en bid om die genade om elke geleentheid raak te sien waarin ons deur ons dade aan Hom groter eer kan bring!

Ons ‘n eedsverklaring te maak beteken om die ware God, God Drie-enig tot getuie te roep. Hierdie saak het geweldige implikasies vir wie ookal daaraan deel. Ons ag hierdie ‘n uiters onverantwoordelike aksie waarin die Vader tot getuie geroep word! In hierdie aksie, waarin baie min waarskynlik die implikasie verstaan en ook geen beheer het oor die uitvoering daarvan nie.

Gideon Grobler

Voorsitter van BCVO Direksie

SPORT




Vir Afrikaners is sport belangrik en by CVO Brandwag kry leerlinge die geleentheid om aan verskeie sport soorte deel te neem. Geleentheid tot deelname is vir CVO Brandwag belangrik en daarom kry alle leerlinge gelyke geleentheid tot deelname.
Vir uitblinkers is daar ook die geleentheid om op provinsiale en nasionale vlak deel te neem teen ander CVO skole.

DIE BEWEGING VIR CHRISTELIKE VOLKSEIE ONDERWYS (BCVO)

CVO Brandwag is saam met 48 ander skole, trotse lede van die BCVO. Die BCVO is ‘n oorkoepelende liggaam wat verantwoordelik is vir kurrikulumontwikkeling, ontwikkeling van studiemateriaal, jaarlikse standaardiseringseksamens vir graad 7, 9, en 11, personeelopleiding, vakadviesdienste en inspeksies van lidskole.
Die BCVO-Eksamenraad is die enigste geakkrediteerde onafhanklike Afrikaanse eksamenliggaam in Suid-Afrika.
Die BCVO-Eksamenraad neem sy tiende matriekeksamen vanjaar af. Dit word met respek erken deur die voorste universiteite, technikons en kolleges.

Geskiedenis en Kultuur





By CVO Brandwag is dit vir ons belangrik dat ons kinders geleer word van die Afrikaner se eiesoortige geskiendenis en kultuur.

Verskeie kultuuraktiwiteite soos redenaarskompetisies en Volksgeskiedenis word aangebied.

Leerlinge word ook gereeld op uitstappies geneem na geskiedkundige plekke en museums.

CHRISTELIKE BEGINSELS

Die CVO Brandwag is ‘n Christelike skool geskoei op die Protestante Gereformeerde leer.
Slegs kinders van ouers wat belydende lidmate is van een van die Protestante Gereformeerde kerke sal toegelaat word tot die skool.
Godsdiensopvoeding is ‘n verpligte vak tot in matriek.

WIE IS CVO BRANDWAG?

CVO Brandwag is ‘n ouerskool wat eienaarskap neem van hulle kinders se opvoeding en dit nie aan die staat oorlaat nie. Die hoekstene van die opvoeding word gevorm deur ‘n Christelike-gereformeerde lewens- en wereldbeskouing, die uitlewing en uitbouing van die Afrikaner se volkseie geskiedenis, kultuur, taal en die verskaffing van gehalte onderwys.
Dit is ons mening dat die staat nie hierdie waardes vir ons kinders bied nie. Inteendeel, hulle waardestelsel is nie Christelik nie en ook volksvreemd. Hierdie waardestelsel word op ‘n subtiele wyse verkoop en bevorder in die staat se leermateriaal.
CVO Brandwag is gebore uit die versigting van Christelik Afrikaner ouers om vir hulle kinders die waardes soos bo genoem te bied.
Die skool bestaan al sedert 1992 en is geakrediteer deur UMALUSI en is geregstreer by die onderwysdepartement.
CVO Brandwag is nie gerig op winsbejag nie en alle fondse wat ge-in word, word aan die skool spandeer. Alhoewel die standaard en gehalte van onderrig die van staatskole by vere oorskry, is die skoolfonds kompenteerend met die van staatskole.