Monday, May 26, 2008

Danie Theron: Een van ons grootste helde.



Anja Piek Gr6

Ons het op Saterdag 17 Mei 2008 vroeg bymekaar gekom by CVO Brandwag. Vandaar het ons in 'n konvooi na die Danie Theron Monument gery, wat naby Carltonville gelee is. Toe ons by die terrein aankom, was sommiges van ons braaf en het die koppie uitgeklim, terwyl ander minder avontuurlustig was en met motors opgery het na die monument.

By die monument het Oom Chris vir ons meer oor die geskiedenis van Danie Theron vertel. Onder andere het hy ons vertel dat Danie 'n prokureer in Krugersdorp was en dat hy opgestaan het vir die regte van die boerevroue, nadat 'n lelike berig oor die boervrou in 'n engelse koerant verskyn het van daardie tyd.

Hy is aangekla van aanranding op die redakteur van die koerant en moes 20 pond boete betaal. Hierdie boete is deur die boere wat die verhoor bygewoon het betaal.

Hy het besef dat die kommunikasie tussen die vegtende boere nie goed was nie en het die Verkennerskorps gestig. Hy was die stigter en leier van hierdie korps. Dit het bekend gestaan as die Danie Theron Verkenners. Boodskappe is vanaf so ver as Pietersburg reg oor die land geneem. Dit is op een van hierdie lang togte wat hy besef het dat 'n mens baie verder en vinniger per fiets kan ry as per perd. As boodskappe oor kort afstande geneem moes word, is daar steeds van perde gebruik gemaak.

Op 'n keer moes Danie Theron oor 'n lang afstand op sy hande en kniee van die een Generaal na die ander kruip om 'n boodskap deur die Engelse linie te kry.

Die Monument staan op 'n koppie waar Danie verkenning gaan doen het en toe op 'n groep Engelse soldate afgekom het. Met 'n Mauser het hy drie gedood en vier gewond. 'n Engelse generaal, Generaal Hart, het die skermutseling gehoor en gedink daar is 'n hele Boeremag op die koppie. Hy het toe vier gewone kannone en een skeeps kanon op die koppie gerig en daar is Danie Theron gedood.

Die monument is opgerig ter herdenking van Danie Theron en dat almal kan onthou dat hy 'n vegter was vir Afrikaner regte en dat daar in sy hart, die vlam van vryheid hoog gebrand het. Die monument is 50 jaar na sy dood opgerig deur Boeremense wat nog steeds die vlam van vryheid ook in hulle harte voel brand.

Wat 'n wonderlike ondervinding! Ek wens alle Afrikaner-kinders die voorreg kan geniet wat ons het en dat hulle die helde van ons Geskiedenis kan leer ken soos ons hulle leer ken, van mense wat nog vir ons en die geskiedenis omgee.

Terug by die skool het ons 'n Karee-boom geplant ter ere van Danie Theron, sodat ons hier by die skool altyd aan hom sal dink en aan dit wat hy vir ons Afrikaners gedoen het.

Die dag is afgesluit met 'n bring en braai en die brawes onder ons het 'n paar spelle Jukskei gespeel, net om dit gesellig te hou.

No comments: